Mutorwa sê daar’s meer ingenieurs nodig – duisende steeds werkloos

Aanmerkings deur die Namibiese vervoerminister John Mutorwa het wenkbroue laat lig. Mutorwa meen Namibië het meer ingenieurs nodig en dat hulle ‘n “harmonieuse verhouding” met hul geboue moet hê. Op die oomblik is jeugwerkloosheid in die nuus met 84 000 gegradueerdes wat sedert 2018 in die arbeidsmark ingestoot is. Van dié groep het net minder as 38 000 beroepsopleiding ontvang. Kenners meen dit is hoogs waarskynlik dat gegradueerdes van 2018 nog nie ‘n pos bekom het nie en ingenieurs val onder die groep. Om sake te vererger het konstruksie met 16,4 persent in die laaste kwartaal van 2022 gekrimp en die sektor is onder erge druk met meeste kontrakte wat aan Chinese firmas toegeken word. Arbeidskenners meen dat beroepsopleiding ‘n beter opsie is omdat gegradueerdes hulle eie werk kan skep. Daar word ook neergesien op die tipe opleiding en sommige menings is dat dit as gevolg van stigterspresident Sam Nujoma is wat na onafhanklikheid jongmense aangemoedig het om dokters en ingenieurs te word.