Angola sal help met brandstofsmokkelary, vry na ons olie

Die Angolese regering wat beleggings in Namibië se oliesektor oorweeg, meen Namibië kan leer uit die foute wat hy begaan het. Angola is een van die mees ongelyke lande in die wêreld met ‘n Gini-koëffisiënt van 61,1. Die De Santos-era het talle miljardêrs geskep met die misbruik van oliebronne, en die middelklas in die land het oor die jare gekwyn met rykes wat ryker word en armes wat armer word. Die buurland se petroleum-minister Diamantino Pedro Azevedo het met ‘n afvaardiging sy Namibiese eweknie, Tom Alweendo, in die hoofstad ontmoet en sê sy land is gretig om saam met Namibië te werk. Die twee ministers het ‘n memorandum van verstandhouding onderteken oor samewerking, beleggings en die ontwikkeling van die oliesektor. Onder die gebiede van samewerking, is hoe om die onwettige brandstofsmokkelary wat in die noordelike streke voorkom hok te slaan en om olie-opvoeding en tegniese ondersteuning uit te brei en toerusting en infrastruktuur te deel.