Entstowwe na armer lande weer onder die loep

Lede van die Wêreld-handelsorganisasie het ingestem om met amptelike onderhandelings te begin ten einde entstofvoorrade vir ontwikkelende lande ‘n hupstoot te gee. Na wat berig word het Suid-Afrika en Indië, gerugsteun deur talle ontluikende lande, die afgelope agt maande druk geplaas vir ‘n tydelike vrystelling van intellektuele eiendomsreg op entstowwe en ander behandelings. Dit kan die weg baan vir plaaslike vervaardigers om entstowwe te vervaardig wat noodsaaklik is om die geweldige ongelykheid in die lewering van voorraad te herstel. Onderhandelings gaan aanstaande Donderdag begin en ‘n verslag sal in Julie gereed wees.