Vermeende Kapofi-bedrieër swyg, sê staat moet bewyse bring

Owen Mahoto, wat daarvan beskuldig word dat hy die verdedigingsminister, Frans Kapofi uit 200 000 Namibiese dollar bedrieg het, sal weer op 2 Junie in die Windhoek-landdroshof verskyn. Die dossier is na die kantoor van die aanklaer-generaal gestuur vir ‘n bepaling oor of hy vervolg sal word of nie, en op watter klagtes. Mahoto het onskuldig gepleit en weier ook om die hof enige verduideliking aan te bied. Sy prokureur, Uejanaua Tjihumino, sê Mahoto is doodstil oor die aangeleentheid en sal homself nie inkrimineer nie. Hy sê hulle eis dat die staat elke aantyging teen sy kliënt bewys. Mahoto se borg van 5 000 dollar is verleng.