Twee van die vier Amerikaners wat ontvoer is, dood aangetref in Mexiko

Die Mexikaanse owerheid het bevestig twee van die vier Amerikaners wat verlede week in ‘n gewapende aanval in Mexiko ontvoer is, is dood. Die vier het in ‘n wit minibussie met Noord-Carolina-nommerplate deur Matamoros gery toe onbekende gewapende mans op hulle losgebrand en hulle ontvoer het. Hulle het na Mexiko gereis vir kosmetiese chirurgie. Die Pentagon-woordvoerder, John Kirby, sê alle aanvalle op Amerikaanse burgers is onaanvaarbaar, ongeag waar of onder watter omstandighede dit plaasvind. Die twee oorlewendes is reeds afgevoer na Texas waar hulle mediese behandeling ontvang. Die oorskot van die ander twee is ook reeds gerepatrieer.