SAID: Cyril en sy maatskappye voldoen aan belastingverpligtinge

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sê President Cyril Ramaphosa en sy maatskappye voldoen ten volle aan hul belastingverpligtinge. Die DA het Dinsdag bekendgemaak dat die Inkomstediens bevestig het die Amerikaanse dollars wat in ʼn rusbank op Ramaphosa se plaas, Phala Phala, versteek was, is nie verklaar toe dit in die land ingebring is nie. Die geld is na bewering deur ʼn Soedannese burger betaal wat buffels by die president gekoop het. Die kommissaris van die Inkomstediens, Edward Kieswetter, sê daar is besluit om die voldoening te bevestig weens wesenlike openbare belangstelling in Ramaphosa se sake.