Vermeende moordenaar in hof ná liggaam in vlak graf ontdek is

Die 34-jarige Erick Mutanale het in die Katima Mulilo-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en regsverydeling. Luidens die klagstaat het  Mutanale die oorledene na bewering met ‘n draad vasgebind, hom sowat 30 meter van sy huis af gesleep en in ‘n vlak graf begrawe. Die oorledene se lyk is op Donderdag 2 Maart deur die Namibiese polisie opgegrawe nadat lede van die publiek inligting verskaf het. Die liggaam van die oorledene is nog nie geïdentifiseer nie. Staatsaanklaer Cedrick Mundia het borgtog aan die beskuldigde teengestaan weens die erns van die aanklagte en dat dit nie in die belang van die publiek sal wees nie. Mutanale se saak is tot 29 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.