Geen borgtog vir polisieman wat glo dagga smokkel

‘n Namibiese polisieman wat daarvan beskuldig word dat hy dwelms en onwettige goedere by die Ondangwa se polisie-aanhoudingselle gesmokkel het, bly in aanhouding. Die 28-jarige konstabel Alex Josef het voor landdros Alice Gawanas op klagte van die handel in dagga en die oortreding van die Wet op Tabakbeheer verskyn. Sy sakke was glo volgestop met dagga ter waarde van 6 350 Namibiese dollar en onwettige Yes-sigarette. Staatsaanklaer Wisdom Ndakondja het borgtog teengestaan en gesê dat die beskuldigde ‘n soortgelyke saak het wat nog hangende is. Die saak is tot 20 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.