Toblerone-sjokolade se Matterhorn moet waai

Die vervaardigers van die driehoekige sjokolade, Toblerone, is verbied om die beeld van die Matterhorn-bergpiek op sy verpakking te gebruik. Dit volg nadat die maatskappy deel van sy produksie van Switserland na Slowakye verskuif het. Toblerone is Switserland se bekendste sjokolade en het vir 50 jaar die Matterhorn as sy handelsmerk gebruik. Switserse wetgewing verbied egter die gebruik van nasionale simbole op produkte wat buite die land vervaardig word. Toblerone se eienaar – die Amerikaanse maatskappy Mondelez wat ook Cadbury besit – sê hy gaan die Matterhorn met ‘n moderne, meer vaartbelynde berg vervang.