Kaapstad loop deur onder vandalisme
Die Stad Kaapstad sê in die laaste kwartaal van verlede jaar is 230 gevalle van onwettige verbindings en vandalisme aan elektrisiteits-infrastruktuur aangemeld. Die koste daarvan beloop sowat 2,5 miljoen Suid-Afrikaanse rand. Die Mowbray- en Gugulethu-distrikte het die ergste deurgeloop. Die burgemeesterskomiteelid vir energie, Beverley van Reenen, sê onwettige verbindings en skade aan infrastruktuur bly ‘n uitdaging vir die stad en lei dikwels tot voortslepende kragonderbrekings in die gebiede wat geraak word. Dit sluit areas in wat krag van die stad en direk van Eskom kry.