Neckartaldam se vlak staan op 102%
Namibiese damme is tans 71,8 persent vol teenoor verlede jaar se 84,6 persent die ooreenstemmende tydperk. In die sentrale gebied het die Swakoppoortdam invloei van 2,007 miljoen kubieke meter gehad en is op die oomblik 80,4 persent vol. Die Von Bachdam het invloei van 1,375 miljoen kubieke meter gehad met sy vlak wat nou op 32,5 persent staan. In die Suide het die Neckartaldam 17,831 miljoen kubieke meter water ingeneem en is nou oorvol op 102 persent, terwyl die Oanobdam by Rehoboth ook 217 000 kubieke meter water ontvang het, wat sy vlak op 65,2 persent te staan bring.