Biden sing sy eie lofsang tydens staatsrede

President Joe Biden het sy staatsrede gelewer en soos verwag, verskeie suksesse van sy administrasie uitgewys. Die Amerikaanse ekonomie is nes meeste lande wêreldwyd deur Covid geknou en werkloosheid was uiters hoog. Op die oomblik is die syfer op ‘n rekordlaagtepunt van 3,4 persent met meer as 800 000 werksgeleenthede wat deur die Biden-administrasie se infrastruktuurplan geskep is. Hy het ook onderneem dat konstruksie en vervaardiging die maksimum Amerikaanse roumateriaal moet gebruik. Hy sê niemand in die VSA sal ooit weer agter gelaat word nie.

Die Amerikaanse arbeidsminister Martin Walsh is tydens die staatsrede as aangewese oorlewende benoem. Die hele Amerikaanse regering, insluitend die Huis, die Senaat, Biden se kabinet, hooggeregshofregters en die vise-president was teenwoordig in die Huis en sou iets gebeur tydens die staatsrede, sou Walsh verantwoordelik gewees het om weer ‘n regering in die VSA op te bou.