Al hoe meer huishoudings geraak soos efundjavlakke styg
Die Namibiese Hidrologiese Diens sê die efundja-vlakke begin die rekordsyfers wat in 2011 aangeteken is, vinnig inhaal. Engela is sedert 27 Januarie ver verby ‘n meter met Shanalumono wat op 0,98 meter staan. Endola is op 1,85 meter. Die landbouminister het na sy besoek verlede week aan die gebiede gesê die efundja kom nog aan en die huidige water is nie deel van die seisoenale vloed nie maar eerder, goeie reënval. Intussen word daar berig dat daar reeds een persoon verdrink het in die Ohangwena-streek. Daar is ook 364 huishoudings wat deur die vloedwater geraak word. Die kantoor van die eerste minister het ook reeds skenkings van voedsel en tente gemaak. Schlettwein het melding gemaak van infrastruktuur soos huise, krale en meer wat in vloedgebiede sedert 2011 opgerig is. Hy sê beter beplanning moet gedoen word. Reënval in die opvangsgebied, die Cuvelai-bekken sal vandag voortduur.