Cash ‘n Carry-werkers op Rundu keer terug werk toe

Al 276 werknemers van die Cash ’n Carry-winkel op Rundu wat in Desember verlede jaar aan ’n betoging deelgeneem het, sal op 8 Februarie terugkeer werk toe. Die goewerneur van die Kavango-Oos-streek, Bonifatius Wakudumo, het dit bevestig nadat hy as bemiddelaar opgetree het. Die werknemers is geskors omdat hulle volgens die maatskappy aan ‘n onwettige staking deelgeneem het. Die werknemers het egter geweier om die briewe te onderteken, die Namibiese polisie ingeroep en ook ‘n petisie by die kantoor van die goewerneur ingedien. Wakudumo sê aan Kosmos 94.1 Nuus sy kantoor het saam met dié van die arbeidsministerie die dispuut met alle betrokke partye bemiddel.