Namibiese para-atlete kom tweede in Marokko

Die Namibiese para-atlete het ‘n indrukwekkende vertoning by die 2022 Wêreld Para-atletiek Grand Prix in Marrakech, Marokko gelewer. Die byeenkoms het Saterdag na twee dae afgesluit. Op die openingsdag van die kampioenskappe het die Namibiese span tien medaljes ingepalm, terwyl hulle op die tweede dag nog 11 medaljes gewen het om hul algehele telling op 21 medaljes te bring met sewe goud, drie silwer en 11 brons. Hulle prestasies het hulle tweede op die medalje-posisie geplaas. Brasilië was voor met 24 medaljes terwyl die Islamitiese Republiek van Iran derde was met 15 medaljes.