Suide van Thailand met bomaanvalle geteister

Sewe mense is beseer in wat blyk gekoördineerde bomaanvalle en brandstigting in die suide van Thailand te wees. Tot dusver het niemand verantwoordelikheid aanvaar vir die aanvalle by minstens 17 geriefswinkels en vulstasies nie. Provinsies in die suide van die land teenaan die grens met Maleisië sukkel al dekades met rebelle en die regering het sy hande vol met groepe wat onafhanklikheid eis van provinsies waarvan die meerderheid inwoners Moslems is. Meer as 7 300 mense is sedert 2004 in konflik dood.