Renoster in Gobabis-distrik gestroop

Die karkas van ‘n witrenosterbul van tussen drie en vier jaar oud is vandag op ‘n plaas in die Gobabis-distrik ontdek. Die horings van die renoster is deur die stropers verwyder. Adjunk-kommissaris Barry de Klerk van die Blue Rhino-taakspan het die renosterstropery aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig en hulle het reeds met die ondersoek begin. Hy sê geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die eienaar van die plaas het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die polisie en beamptes van die omgewingsministerie is op die toneel. Spore van die stropers kon tot by die teerpad gevolg word. Die plaas is al drie keer in die verlede deur renosterstropers geteiken.