Voormalige spioenhoof Arthur Fraser lê klag teen Ramaphosa
Arthur Fraser, voormalige direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap, het ‘n strafsaak teen President Cyril Ramaphosa geopen. Fraser se prokureur, Eric Mabuza, het aan Suid-Afrikaanse media bevestig dat sy kliënt na die Rosebank-polisiestasie gegaan het om die saak aanhangig te maak. Volgens ‘n verklaring hou die klagte verband met die beweerde diefstal van “meer as vier miljoen Amerikaanse dollars” by Ramaphosa se plaas in die Limpopo. Fraser beweer hy het bewyse aan die polisie verskaf wat toon dat Ramaphosa “die misdaad versteek” het vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens en dat die verdagtes ontvoer en ondervra is. Die verklaring lui die inbraak het op 9 Februarie 2020 plaasgevind.