Drie vas vir aborsie-pille

Die Namibiese polisie het drie verdagtes in hegtenis geneem vir die onwettige verkoop van sogenaamde aborsie-pille. Die polisie het ‘n spesiale operasie uitgevoer en wou van die pille koop. Twee, Elizabeth Haingura en Collin Zimmer, is in die sakekern in hegtenis geneem in besit van agt Cytotec-pille ter waarde van 3 200 Namibiese dollar, terwyl ‘n derde, Sande Vivienne in Katutura gearresteer is. Haingura en Zimmer het in die Windhoek-landdroshof verskyn en het borg van 1 000 dollar elk ontvang. Hulle saak is tot 20 Julie uitgestel. Vivienne het in Katutura verskyn en het borg van 500 dollar ontvang. Haar saak is tot 15 Julie uitgestel. Die kwessie is reeds ‘n geruime tyd ‘n uitdaging vir owerhede en die tablette kan maklik deur Facebook aangekoop word. Dit is ook hoe die polisie die lokval gestel het.