Virgin Atlantic hervat vlugte vanaf Kaapstad na Londen
Virgin Atlantic hervat op 5 November sy vlugte vanaf Kaapstad na Londen. Virgin Airlines se eienaar, Richard Branson, het regstreekse vlugte in 2015 gestaak, weens binnelandse sake se nuwe immigrasie-regulasies. Hy het die hervatting aangekondig tydens ‘n besoek aan die Moederstad toe hy in ‘n oop-dak-bus deur die strate gery het terwyl hy die Suid-Afrikaanse vlag waai. Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die roete sal ongeveer 80 000 sitplekke toevoeg. Die diens sal in hierdie stadium slegs tot die einde van die toerisme-spitsseisoen beskikbaar wees.