Immigrante steel blykbaar die vee in Omaheke

Onwettige immigrante word geblameer vir die toenemende gevalle van veediefstal in die Omaheke-streek. Volgens Wenzel Kavaka, raadslid vir die Gobabis-Otjombinde kiesafdeling, is ses onlangs gearresteer in verband met die slag van bees van ‘n boer in die gebied. Volgens berigte is meeste immigrante vanaf Angola en hulle word aangestel as veewagters. In die 2019-2020 boekjaar is meer as 5 miljoen Namibiese dollar se vee gesteel met 244 verdagtes wat gearresteer is. Onlangs is daar berig dat 150 bees sedert Januarie vanjaar reeds verloor is. In 2020, het ‘n taakmag ‘n georganiseerde sindikaat oopgevlek wat bees in die streek gesteel het en aan kapana-handelaars in Windhoek verkoop het. Kavaka sê aan die einde van verlede jaar is 60 stuks vee by onwettige immigrante in die streek gekonfiskeer.