China se vleishandel sukkel onder Covid-inperkings

Die uitgerekte inperking in Sjanghai, China se finansiële middelpunt, vertraag die land se handel in vleis omdat die streng Covid-maatreëls logistieke probleme veroorsaak met toenemende ontwrigting van sake. En dit kom nie net in Sjanghai voor nie. Ander stede is ook ingeperk en daar is kommer oor die stand van sake in Beijing. China is die wêreld se grootste koper van vleis en het verlede jaar meer as 9 miljoen ton ingebring, ter waarde van sowat 32 miljard Amerikaanse dollar. Handelaars maak staat op Sjanghai se ideale ligging om produkte regoor die land te versprei, maar sedert die inperking het die verskuiwing van verkoelde of bevrore produkte ‘n duur kopseervir handelaars geword.