Kenner sê oor Putin se doelwit, beaam dat oorlog moontlik op 9 Mei eindig

Talle mense wonder oor presies wat President Vladimir Putin se doelwitte is met die oorlog in die Oekraïne. Volgens professor Nina Krushcheva, kleindogter van die voormalige Russiese leier Nikita Khrushchev en kenner van internasionale betrekkings, kan Putin moontlik poog om weer die Russiese ryk van ouds te laat herleef. In haar mening wil Putin onthou word soos een van die groot leiers in dié land se 1 000-jaar geskiedenis. Sy sê nes ‘Vladimir the Great’ van Kiëf, of ‘Peter the Great’ of ‘Ivan the Great’ wil Putin as ‘Putin the Great’ onthou word in die Russiese geskiedenis. Sy sê ook dat met die beleg van Mariupol en indien Russiese magte wel die stad oorneem, kan Putin moontlik op Oorwinningsdag op 9 Mei, die dag wat die land sy oorwinning in die Tweede Wêreld Oorlog verklaar het en jaarliks herdenk, moontlik ook die oorlog in die Oekraïne beëindig en oorwinning verklaar. Mariupol is strategies belangrik vir die verbinding tussen die Krim en Donbas.