Vredesonderhandelings tussen Rusland en Oekraïne vorder goed
Dit lyk asof daar goeie nuus is oor die oorlog in Oekraïne. Internasionale nuusagentskappe berig Rusland het vandag by vredesonderhandelings beloof om sy militêre optrede rondom Kiëf en die noordelike Oekraïnse stad Chernihiv drasties te verminder. Oekraïne het ook ‘n neutrale status voorgestel, met internasionale waarborge om hom teen aanvalle te beskerm. Die Russiese adjunkminister van verdediging, Alexander Fomin, sê Rusland het besluit om die gevegte naby Kiëf en Chernihiv te verminder om geleentheid vir gesprekvoering te skep. Die top Russiese onderhandelaar, Vladimir Medinsky, sê hy sal Oekraïnse voorstelle oorweeg en aan president Vladimir Putin verslag doen.