ANC besin oor sy swak vertoning in verkiesing

Die ANC in Gauteng sê die party het verwag om swak te vaar in verlede maand se plaaslike regeringsverkiesing. Die provinsiale sekretaris, Jacob Khawe, sê hulle was bewus daarvan dat kiesers kwaad is oor uiters swak dienslewering en beurtkrag. Volgens berigte erken die party ook sy leierskap was nie op standaard in die aanloop tot die verkiesing nie. Die ANC het nie daarin geslaag om ‘n volstrekte meerderheid te behaal in die metro’s Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni nie en het ook in baie van die provinsie se munisipaliteite beheer verloor.