SAPS kan nie vir Maren opspoor nie

Terwyl Namibiese owerhede reeds op 19 Mei vanjaar ‘n lasbrief vir Maren de Klerk uitgereik het, het Suid-Afrikaanse owerhede aan die Afrikaanse dagblad die Republikein bevestig dat hy nog nie in hegtenis geneem is nie omdat die Suid-Afrikaanse polisie hom nie kan opspoor nie. Sy uitlewering is ook nie uitgemaakte saak nie. Sou hy gearresteer word, sal hy eers in die buurland in die hof moet verskyn en kan hy uitlewering betwis. De Klerk het vroeër melding gemaak van dreigemente op sy lewe en het volgens berigte ook President Hage Geingob by die Fishrot-skandaal betrek en na bewering gesê daar is na hom as ‘The Boss’ verwys. Sy huis in Windhoek was vroeër in die mark en daar was berigte dat hy in die Paarl in die Wes-Kaap is. Intussen het hy sy eie webtuiste gestig waar hy hom as a lewensafrigter beskryf en selfs resepte deel.