Gee meisies en vroue gelyk toegang

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê almal sal daarby baat vind as meisies hul volle potensiaal kan bereik. Vandag is Internasionale Dag van die Meisie-kind met die tema “Digitale generasie. Ons generasie”. Die VN se agentskappe vir onder meer vroue vra vir gelyke toegang vir meisies tot die internet en digitale toestelle, asook doelgerigte beleggings sodat meisies betekenisvolle en veiliger toegang tot tegnologie kan kry, om dit te gebruik en leiding te neem in die ontwerp daarvan. Guterres sê dit is almal se verantwoordelikheid om meisies te ondersteun in al hul diversiteit, en om hul mag te versterk as mense wat verandering en oplossings op digitale gebied bewerkstellig.