Daar word vergader en geëet in Erongo, sommer baie
Die Erongo-streeksraad is besig. Hy vra verskeie kwotasies aan vir verversings en etes aan in sy jongste ronde van verkryging. Die liasseerplan opleiding vereis tee, middagete en koeldrank vir 48 vir drie dae terwyl die kulturele groepsleiers op 8 Maart tee, koeldrank en middagete vir 20 mense aanvra, beide in Swakopmund. Daar is ook ‘n opleidingsessie op Omaruru vir 60 oor drie dae waar etes, tee en koeldrank voorsien moet word en nog so ‘n sessie op Swakopmund van 4 tot 7 Maart wat dieselfde aanvra vir 60 tot 90 persone. Die Tender Bulletin berig oor talle sulke vergaderings en seminare, selfs tien dae van onderhoude, op Nkurenkuru waar die streeksraad koeldrank en middagete vir ‘n span van ses aanvra.