Wêreldrugby kyk na plaasvervangers in elite rugby

Die voorsitter van Wêreldrugby, Bill Beaumont, sê ‘n grootskaalse studie oor die impak van plaasvervangers in elite rugby is aan die gang. Hy het gereageer na die vrystelling van ‘n openbare brief waarin ‘n hele paar rugby-legendes daarop aandring dat plaasvervangers net opgestuur moet word as ‘n speler beseer is. Hulle sê dit moet gedoen word in ‘n poging om die veiligheid van spelers te verseker. Beaumont sê dit is ‘n ingewikkelde aspek van die spel, en daar word na verskillende veranderlikes in twee-duisend wedstryde gekyk. Hy voeg by dit is belangrik dat besluite op grond van bewyse geneem word en enige ongewensde gevolge van veranderings vermy word.