Landbou verbied invoere van onverwerkte vleis uit Duitsland
Namibië het ‘n onmiddellike verbod op die invoer en deurvoer van spesifieke gesplete hoefdier-produkte vanaf Duitsland geplaas, nadat gevalle van bek-en-klouseer in dié land bevestig is. Die Direktoraat Veeartsenydienste het die invoer van vars of bevrore vleis, ongepasteuriseerde melk, lewende diere en onbehandelde huide of trofeë van gesplete hoefdiere opgeskort. Voorheen uitgereikte permitte vir hierdie items is teruggetrek. Verwerkte produkte, gepasteuriseerde melk en behandelde huide of vleis van gesplete hoefdiere mag egter steeds onder streng veeartsenykundige invoerpermitte ingevoer word, mits dit voldoen aan die internasionale veiligheidstandaarde van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Simon Nghipandulwa, die landbouministerie se woordvoerder.