Macron weier om te bedank

Die Franse president, Emmanuel Macron, het in ‘n televisietoespraak aan die nasie gesê hy sal nie bedank nie en sal aanbly tot die einde van sy termyn in 2027. Hy sê hy sal in die komende dae ‘n nuwe premier aanstel en opdrag gee om ‘n regering te vorm in die algemene belang, wat alle politieke magte verteenwoordig wat kan deelneem, of wat ten minste sal onderneem om nie die regering omver te werp nie. Macron, wat die ergste politieke krisis van sy twee termyne as president in die gesig staar, het wat hy noem die sinisme, gebrek aan verantwoordelikheid en gevoel van chaos van opposisiepolitici gekritiseer na hulle die regering in ‘n wantrouestem laat val het.