Gorilla dood na reuse-menslike fout in dieretuin
ʼn Menslike fout het gelei tot die dood van ʼn jong gorilla in die Calgary-dieretuin in Alberta, Kanada. Die tweejarige westelike laagland-gorilla, Eyare, is aan traumatiese kopbeserings dood nadat ʼn werker per ongeluk ʼn hidrouliese deur geaktiveer het. Die werker wou Eyare van ander gorillas skei vir solo-opleiding. ʼn Kanadese organisasie sonder winsbejag wat hom beywer vir die menslike behandeling van diere, het ʼn onafhanklike ondersoek aangevra na die omstandighede by die dieretuin in Alberta, wat meer as 4 000 diere versorg.