VSA-sensus: Bevolking aangevuur deur etniese minderhede

Verlede jaar se sensus in die VSA toon die aantal Amerikaners wat as wit identifiseer, het die eerste keer in die geskiedenis tot onder 60 persent gedaal. Die uitslag van die telling wat eenmaal ‘n dekade plaasvind, dui ook daarop dat bevolkingsgroei nou grootliks aangevuur word deur etniese minderhede. Amerika se Spaanssprekende bevolking het gegroei van 12,6 persent in 2000 tot 18,7 persent in 2020. Die Asies-Amerikaanse bevolking se toename met 35 persent is die snelgroeiendste segment. Die Amerikaanse bevolking het die afgelope dekade algeheel met 7,4 persent tot 331 miljoen toegeneem, wat die stadigste groeikoers is sedert die 1930’s.