Aanklaer-generaal moet oor jagter Hennings besluit
Philip Hennings sal op 23 April volgende jaar in die Katutura-landdroshof verskyn na sy dossier na die aanklaer-generaal gestuur is om klagtes te oorweeg en om te besluit waarop hy vervolg sal word indien wel. Daar is onbevestigde berigte dat klagtes in verband met finansiële ongerymdhede bygevoeg kan word tot die van onwettige jag van beskermde wild. Volgens owerhede is ‘n klopjag uitgevoer op sy plaas in die Khomas Hoogland en ‘n sleepwa met ‘n lewende luiperd is op 20 Februarie vanjaar gevind. Die 33-jarige, van Khomas Highland Hunting Safaris Namibia, se professionele jaglisensie is volgens berigte reeds opgeskort. Owerhede sukkel ‘n geruime tyd met die onwettige jag van veral luiperds met praktyke wat jag met honde, diere wat bedwelm is en meer, insluit.