Hezbollah voer dodelikste vuurpylaanvalle in maande op Israel uit

Israelse owerhede het bevestig dat sewe mense in die noorde van Israel dood is in twee afsonderlike Hezbollah-vuurpylaanvalle, wat as die dodelikste in maande beskryf word. ʼn Israelse boer en vier Thaise plaaswerkers is dood toe vuurpyle naby die dorp Metula op die grens met Libanon geval het. ʼn Israelse vrou en haar volwasse seun is ook dood aan die buitewyke van die hawestad, Haifa. Hezbollah het erken hy het vuurpyle afgevuur op die noorde van Haifa en op Israelse magte suid van die Libanese dorp, Khiam.