Goudprys styg bo US$2 700, kan glo hoër

Die goudprys is op sy hoogste vlak ooit terwyl beleggers verdere rentekoersverlagings deur sentrale banke verwag, wat goud se waarde laat toeneem as ʼn veilige hawe teen voortgesette geopolitieke konflikte. Die prys het tot bo 2 700 Amerikaanse dollar gestyg en goud-bulle verwag die prys kan die volgende 12-maande tot selfs bo 2 900 dollar per fynons styg. Verslegtende ekonomiese vooruitsigte en tekens dat inflasie toenemend onder beheer is, het die Europese Sentrale Bank gister genoop om sy depositokoers met nog 25-basispunte te verlaag, in die eerste agtereenvolgende koersverlaging sedert 2011.