One Direction se Liam dood op 31

ʼn Lid van die gewese Britse popgroep One Direction, Liam Payne, is dood nadat hy van die derde vloer van ʼn hotel in Buenos Aires in Argentinië geval het. Plaaslike owerhede sê hy het ernstige beserings opgedoen en ʼn lykskouing sal uitgevoer word. Die 31-jarige Payne het in 2010 in The X Factor beroemd geraak saam met sy One Direction-orkeslede Zayn Malik, Louis Tomlinson, Niall Horan en Harry Styles. Hulle het vyf albums vrygestel en vier wêreldtoere onderneem voordat hulle in 2015 op ʼn onbepaalde blaaskans besluit het. Payne het in 2019 sy eerste solo-album bekendgestel.