‘Zombiestorm’ tref Mexiko, verdwyn, tref weer

Minstens 15 mense is in Mexiko dood as gevolg van orkaan John, het die land se president Andrés Manuel López Obrador bevestig. Die storm het ‘n week gelede die eerste keer as ‘n kategorie drie-orkaan aan Mexiko se Stille Oseaan-kus, suidoos van Acapulco, aan land gegaan. Dit het toe verswak en oor die berge van die staat Guerrero verdwyn voordat dit krag oor die waters van die Stille Oseaan herwin het en die Mexikaanse kus ‘n tweede keer getref het. Dit het weerkundiges genoop om dit as ‘n “zombiestorm” te beskryf. Die swaar reën het grondverskuiwings en oorstromings veroorsaak, baie inwoners afgesny en meer as ‘n dosyn doodgemaak.