Al Fayed se slagoffers moet na vore tree
Die polisie doen ‘n beroep op alle moontlike slagoffers van beweerde seksuele mishandeling deur Mohamed al Fayed om na vore te kom. Londen se Metropolitaanse Polisiemag sê in ‘n verklaring hulle moet verseker alle slagoffers het die vertroue om met hulle te praat oor die voormalige Harrods-eienaar. Vyf vroue wat by die luukse afdelingswinkel gewerk het, beweer hulle is deur Fayed verkrag, met verskeie ander voormalige werknemers wat ook seksuele wangedrag beweer. Die polisie ondersoek tot dusver 19 bewerings van misdade waarby Fayed betrokke is. Vyftien is van seksuele aanranding en een hou verband met mensehandel.