Ruimtevlugte dalk een van die dae ‘n werklikheid
’n Maatskappy in Seattle, genaamd Radian Aerospace, werk hard daaraan om ’n ou NASA-konsep te laat realiser – ’n herbruikbare ruimtevlugvliegtuig wat mense en klein vragte, goedkoper na die ruimte kan neem en terug.
In die 1990’s het NASA aan ‘n ruimtevlugprototipe gewerk genaamd X-33, maar die projek is in 2001 gestaak weens tegniese probleme. Nou, jare later, het Radian Aerospace besluit om dié droom te laat herleef met hul nuwe projek, Radian One. Dié ruimtevlugvliegtuig sal tot 100 keer herbruikbaar wees en vyf ruimtevaarders op ‘n slag kan vervoer.
Interessant genoeg is Livingston Holder, wat voorheen NASA se X-33 projekbestuurder was, nou Radian se hoof tegnologiebeampte. Volgens hom is daar nou genoeg tegnologiese vooruitgang om hierdie droom ‘n werklikheid te maak. Hy noem dat daar nou ligter, sterker komposietmateriaal beskikbaar is wat groter temperatuurvariasies kan hanteer, en dat die voortstuwingstegnologie aansienlik verbeter het.
Radian Aerospace het in 2022 bykans US$28 miljoen (byna N$501 miljoen) ingesamel om Radian One te bou en beplan om vanjaar ‘n skaalmodel te toets.
Maar hoekom het ons hierdie ruimtevlugvliegtuie nodig? Wel, die vraag na ruimtelanseer dienste, soos vir satelliete, neem vinnig toe. Tradisionele vuurpyle is duur en ondoeltreffend, aangesien hulle dikwels net een keer gebruik kan word. Ruimtevlugvliegtuie, soos Radian One, wat minder brandstof gebruik en geen ekstra vuurpyllanstadia benodig nie, kan dalk ’n goedkoper en gemakliker alternatief bied vir ruimtereise.
Die konsep is dat Radian One deur ‘n vuurpyl aangedrewe slee oor ‘n twee-myl lange spoor teen 864km per uur versnel word voordat dit in die ruimte lanseer. Dit verminder die hoeveelheid brandstof wat die vliegtuig self nodig het.
Alhoewel ons nie ’n volledige ruimtevlugvliegtuig voor 2028 sal sien nie, kan Radian One ’n bekostigbare oplossing bied vir ’n toenemende behoefte aan ruimtereise.
Hou jou ore op die grond en jou oë op die sterre, die toekoms van ruimteverkenning is dalk nader as wat ons dink!