Is jy reg vir ‘n maklike geen-kook-of-bak verkoelde yskastert … mmmm klink lekker, nê? Ons het gesoek en gesoek, tot ons die maklikste yskastert resep vir jou vir die naweek kon opspoor.

Het jy ‘n pen en papier byderhand? Wat moet jy doen en wat benodig jy?

BESTANDDELE / EENHEDE: ‘n 128g pakkie suurlemoenjellie, met gewoonlik so om en by tot 570ml water; 1 (405g) blikkie kondensmelk, 500g jogurt van jou gekose geur; 10 spysverteringbeskuitjies of 10 Marie-beskuitjies; 1 eetlepel botter of 1 eetlepel margarien, gesmelt.

AANWYSINGS: So maak jy die yskastert vir die naweek: Maak die beskuitjies fyn deur dit in ‘n plastieksak te sit en met ‘n koekroller of bottel fyn te rol. Sit die beskuitjie-krummels in ‘n bak, voeg dan die gesmelte botter by, meng goed en druk hard vas in die bodem van jou tertbak. Verkoel vir 1 uur. Maak die jelliepakkie aan met net die HELFTE van die vloeistof (om ongeveer 285ml jellie te maak). Voeg EERS die kondensmelk by en roer. Voeg die jogurt by en roer. Gooi op die verkoelde beskuitjiebasis en verkoel dadelik vir 1 uur. Versier indien verlang met vrugte. Jy kan ook die mengsel verdubbel deur gelatien te gebruik, gemeng met die helfte van die aanbevole hoeveelheid water, 300g roomkaas en nog 500g jogurt.