Tronkstraf vir oorgewig woef

’n Vrou van Auckland is vir twee maande tronk toe gestuur nadat sy versuim het om haar hond te versorg wat so vet was dat hy nie kon beweeg nie.

Die hond moes drie keer stop om asem te skep tydens ‘n 10 meter stappie van die huis na die motor.

Dit het gelyk of sy bene onder hom wou ingee.

‘n Veearts het bewyse aan die Manukau-distrikshof gelewer dat Nuggi 53,7 kg geweeg het en so vetsugtig was dat dit nie moontlik was om sy hart met ‘n stetoskoop te hoor nie.

Die veearts het bygevoeg dat weens die ekstra gewig wat Nuggi gedra het, hy erge langtermyn-ongemak en benoudheid sou opgedoen het.

Nuggi was maklik een van die mees vetsugtige diere wat hulle nog ooit teëgekom het, het die veearts gesê.