Nadal deur na eerste eindstryd in twee jaar

Tennis:  Rafael Nadal is deur na sy eerste eindstryd sedert sy oorwinning by die Franse Ope in 2022. Hy het gister in Bastad, Swede, die kwalifiseerder van Kroasië Duje Ajdukovic in drie stelle geklop. Die Spanjaard het teruggeveg nadat hy die eerste stel afgestaan het, en met 4-6, 6-3, 6-4 gewen. Nadal kom in vandag sy eindstryd te staan teen die sewende gekeurde Nuno Borges van Portugal in sy soeke na die 93ste enkelspeltitel van sy loopbaan. Hy gebruik die byeenkoms in Bastad om sy vere reg te skud vir die Olimpiese Spele in Parys, waar die tennis op Roland Garros se kleibane gespeel word.