Keetmans-NamPol soek vier verdagtes na plotaanval

NamPol in Keetmanshoop is op soek na vier verdagtes wat na bewering in die vroeë oggendure van Dinsdag ‘n egpaar en hul 11-jarige dogter op ‘n plot buite die dorp aangerand en beroof het. Die gewapende verdagtes het deur ‘n kombuisvenster by die huis ingebreek en die egpaar in hul slaapkamer aangeval. Die dogter het daarin geslaag om die bure te kontak. Op ‘n stadium is skote afgevuur, waarna die pa met draad vasgebind is. Die bure het opgedaag en daar is skote verwissel, waarna die verdagtes gevlug het met ‘n Lenovo-skootrekenaar, ‘n iPhone en juweliersware, ter waarde van 79 000 Namibiese dollar. Die polisie het hul spore gevolg en twee van die verdagtes is deur ‘n voertuig opgetel, terwyl die ander twee na Tseiblaagte Uitbreiding 7 gegaan het. Die voertuig is gevind en die bestuurder word ondervra, terwyl twee van die verdagtes bekend is maar nog nie gearresteer is nie.