Amushelelo moet Namib Mills uitlos, regskoste betaal

In die saak tussen die aktivis Michael Amushelelo en Namib Mills, het Regter Hannelie Prinsloo die tussentydse interdik wat sy op 2 April in die hoërhof uitgereik het, bevestig. Daarvolgens mag Amushelelo en ‘n groep van 26 Namib Mills werkers nie ingange na die maatskappy se perseel versper, dreig om sy bedrywighede te staak en ander dreigemente teen die maatskappy maak nie. Sy het ook beveel dat Amushelelo Namib Mills se regskoste moet betaal. Sy het in haar uitspraak gesê Amushelelo het opruiende uitsprake teen Namib Mills op sosiale media gemaak, en sy dreigemente kan kriminele dade aanhits. Dit het reaksies ontlok waarin mense gedreig het om Namib Mills-vragmotors te saboteer en te plunder, en om produkte van die maatskappy te beskadig. Sy sê vryheid van spraak is ‘n hoeksteen van die Namibiese samelewing, maar vryheid van spraak wat in stryd is met ander fundamentele regte en lei tot onwettige of kriminele optrede, sal in stryd wees met die Grondwet.