Nog ‘n ongeregistreerde politieke party op die toneel

Nog ‘n ongeregistreerde politieke party, Action Fund, het aangesluit by die wedloop na die 2024 nasionale verkiesing. Luidens die party se manifes beloof dit om Air Namibia te heropen en dat geen studente verplig sal wees om enige geld aan NSFAF terug te betaal nie. Dit sal ook ‘n werkloosheidsfonds op die been bring, waardeur werklose persone ‘n maandelikse toelae sal ontvang. Daar is tans 19 politieke partye geregistreer by die Verkiesingskommissie van Namibië en dit sal waarskynlik toeneem. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Graham Hopwood, die direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing, wat sê dat alle nuwe partye aan die kommissie se vereistes moet voldoen om ‘n volwaardige party te wees. Eers dan sal hulle ernstig opgeneem word.