Senegal: Dit lyk asof Sall en kie se tyd min is

Vroeë uitslae in Senegal se presidensiële verkiesing dui daarop dat opposisie-kandidaat Bassirou Diomaye Faye moontlik ‘n volstrekte meerderheid behaal het. Opposisie-ondersteuners het die in strate van die hoofstad Dakar feesgevier. Amptelike uitslae sal na verwagting Vrydag deur die Dakar Appèlhof bekend gemaak word. Baie hoop dat die vertraagde verkiesings stabiliteit en ‘n ekonomiese hupstoot vir die Wes-Afrikaanse nasie sal bring ná drie jaar van ongekende politieke onstuimigheid. Amadou Ba is die kandidaat wat gerugsteun word deur uittredende president Macky Sall, wat uittree te midde van ‘n afname in gewildheid ná twee ampstermyne wat deur ekonomiese swaarkry en gewelddadige betogings gekenmerk is.