Opknapping van Onafhanklikheidstadion bou stoom op

Die sport-ministerie sal volgende week die hoofkonsultant vir die opknapping van die Onafhanklikheidstadion in Windhoek aankondig. Dit is onthul deur die ministerie se uitvoerende direkteur, Erastus Haitengela, wat sê sokkeraanhangers is gefrustreerd deur die feit dat die stadion onbevoeg verklaar is om internasionale sokkerwedstryde aan te bied. Beide die Konfederasie van Afrika-sokker, Caf, en die Internasionale Sokker-federasie, Fifa, het die stadion onbevoeg bevind. Haitengela sê daar was 10 bieërs, waarvan twee internasionaal was. Twee konsultante is op die kortlys en die wenner sal volgende week aangekondig word. Die doelwit is om die stadion teen einde Mei volgende jaar ten volle in werking te hê, voor die Streek Vyf Spele, wat vir Desember volgende jaar in Namibië geskeduleer is.