SAKP juig oor geskrapte SAA-ooreenkoms
Die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party verwelkom die kabinet se besluit om die omstrede ooreenkoms tussen die Takatso-konsortium en die Suid-Afrikaanse Lugdiens te skrap. Die SAKP sê die ooreenkoms was nie deursigtig nie en ‘n volledige ondersoek is nodig oor wat verkeerd geloop het. Die hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê die kabinet moet SAL se intellektuele eiendom beskerm, wat nou blootgestel is aan private kommersiële belange. Hy voeg by daar moet genoegsame herkapitalisering van die lugdiens wees en die staat behoort dit namens die mense te besit.