Covid: Geen rede tot paniek, 4 gevalle daagliks in afgelope jaar

Die gesondheidsministerie sê in ‘n verklaring dat Covid-19 nog nooit heeltemal uit die land verdwyn het nie. In die laaste 12 maande is gemiddeld minder as 106 gevalle ‘n maand aangeteken, of vier gevalle per dag. Tussen 25 Januarie en 16 Februarie vanjaar was daar egter 39 positiewe gevalle in Rehoboth, die meeste van hulle by Dr. Lemmer Hoërskool. Nie een van hulle was ernstig of het hospitaalbehandeling geverg nie. Op 20 Februarie was daar 28 aktiewe Covid-gevalle landswyd, met een hospitalisasie elk in die Karas-, Oshana- en Erongo-streke. Die ministerie moedig steeds alle Namibiërs aan om hul hande te was of hand-reinigers te gebruik en hul monde te bedek wanneer hulle hoes. Die ministerie versoek ook dat mense nie verouderde of ongeverifieerde inligting op sosiale media versprei nie, want dit lei tot onnodige paniek.